Nuwe werk, nuwe lewe

32 0 0
                                    

Ons het net die naweek gehad om uit te pak en alles reg te kry in die woonstel. Die plekkie het darem vinnig soos 'n tuiste gevoel met die hulp van Jaco se ouers en suster.

Jaco het mos al jare lank in hierdie dorpie gebly. Vir my was die plattelandse dorpie 'n aanpassing. My tuisdorp was groter as hierdie dorp en Pretoria was die laaste ses jaar lank my tuiste.

Ons het net een voertuig gehad, so Jaco het na sy werk gery elke dag. Gelukkig was my nuwe werksplek net oor die pad.

Ek het die Maandag met bewende bene en broek gaan aanmeld. Kliniekwerk was baie anders as die hospitaal waar daar heeltyd oor jou skouer geloer is en dit heeltyd besig was. Ek het baie gehad om te leer. Ons het baba klinieke gehad, gesinsbeplanning en 'n TB kliniek. Op die ouderdom van 25 jaar het ek die heel eerste keer aan 'n rekenaar geraak! Die ding het aanmekaar "gevries" van my onbekwaamheid om die regte knoppies te druk. Ons moes daagliks die pasiente se kaarte inlees. Dit het my die eerste paar dae byna heeldag geneem om omtrent 5 kaarte in te lees. My tikervaring op skool, het darem so bietjie gehelp om die keybord baas te raak.

Daardie tyd was ons slegs 3 susters by die kliniek en nie so besig. Elkeen het soms so tien pasiente gesien per dag. Ek kon nie glo dat ek soms kon sit en brei of Huisgenoot lees by die werk nie.

Die baba kliniek was in die begin baie erg. Om die ou klein lyfies in te spuit was onmenslik. Saans het ek hul gehuil in my drome gehoor.

Gesinsbeplanning was net so 'n skok. Skoolmeisies van so jonk as 13 jaar wat vir voorbehoedmiddels kom! Die ouers se toestemming was nie nodig daarvoor nie en dit was alles heeltemal konfedensieël. Ek moes vinnig my skaamheid om oor seks te praat in die sak druk. Het ook 'n paar boeke aangeskaf om my meer touwys te maak oor al die vrae wat die meisies en ander vrouens gevra het.

Soggens het ons altyd 'n vinnige vergadering gehad en dan ook alles reggesit vir die spesifieke kliniek wat die dag sou plaasvind. Donderdae was gewoonlik gesinsbeplanning. Dit was snaaks om altyd na ete as die skool uitkom, die meisies te sien. Die brawes het in hul skoolklere gekom. Die skames, het vir hul "vriendinne" kom pille haal. Dan moes ons voorligting doen en hul van voorhuwelikse seks se sondes vertel. Soms, as ek vinnig uit die kantoor was, en van die meisies daar binne gewag het, het hulle kondome of pille gesteel, want hul was te skaam om te vra. Baie van die meisies het eerder na my toe gekom as gevolg van my ouderdom as my twee heelwat ouer kollegas wat net vir hulle gepreek het. Genade, ek het dan self voor my troue die kat in die donker geknyp! 😀

Ek was jonk en kon die nuwe werk gou onder die knie kry. Elke dag was naderhand 'n uitdaging vol nuwe dinge. Werksure van 8 tot 4.

As Jaco van die werk afkom, was ek meestal al byna klaar met 'n heerlike bord kos. Nou het ons naby al sy vriende gebly en ons naweke was propvol pret en plesier. Gekuier het ons baie deeglik gedoen.

Soms in die middag na werk, het ons sommer met 'n bier in die hand plat op ons stoepie op die vloer gesit en kyk hoe die son sak. Dis die naaste aan romanties wat Jaco kon kom. Hy het nie 'n romantiese haar op sy lyf gehad nie! Ek moes al die plannetjies uitdink. Kersligetes op die vloer, met die kos op die koffietafeltjie het min gebeur.

Ek moes ook vinnig gewoond raak daaraan dat manlief my Vrydae middae met 'n woonstel vol manne en bier inwag! En dat ons dan die Suid-Afrikaanse ding van braai aanpak sonder vooraf kennisgewing vir my! Hy het nie gedink dit sou nodig wees om my te laat weet nie. Ek weer het daarvan gehou om te beplan aan 'n kuiertjie en lekker saam met die gaste te kuier ook en nie heeltyd in die kombuis te staan terwyl almal kuier nie. Ek moes egter maar gou gewoond raak aan dit. Dit sou nooit verander nie.

Ons bure was 'n ou oom en tannie en hul het dit altyd geniet as ons kuier, want die musiek en lewe en grappies het hul laat terugverlang na hul jongdae.

Dit het goed gegaan met ons. Hard gewerk, hard gespeel... goeie huwelik, goeie vriende. Ons was so vreeslik lief vir mekaar.

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now