Ons het almal geslaag na
4 harde jare se swot. Gradeplegtigheid het aangebreek. Keith het spesiaal vir die geleentheid Pretoria toe gekom saam met my ouers. Dit was baie opwindend om in togas te pronk en ons sertifikate te ontvang.My ouers was baie trots op my. Asook Keith wat sy nursie nie kon weerstaan.
Nou moes ons al die kennis wat ons opgedoen het die laaste paar jaar, toepas. Skielik het ons die wêreld met benoude boude aan ons voete gehad.
Ek het werk gekry by 'n patologiese praktyk. Hierdie het 'n ander kant van die mediese wêreld gewys. Ek het ook Pretoria se strate goed leer ken met al die hospitaal en tuisbesoeke om bloed te trek. Baie verdwaal ook.
Tydens 'n week lange welverdiende verloftydperk, is ek en Keith saam sy neef Gert en die se vrou Rene, Balito toe vir 'n wegbreek. Die huis waarin ons gebly het, was yslik en het 'n swembad gehad. Ons was by die see, maar het nooit daarby uitgekom nie.
Speletjies, kuier, braai en skinny dipping (saam Keith natuurlik) was aan die orde van die dag. Een middag tydens 'n middagslapie het 'n bobbejaan wat deur die venster vir ons kaskenades geloer het, vir groot pret en skrik gesorg. Die belustigheid was sommer weggeskrik en ons het eerder gaan swem. Dit was 'n onvergeetlike vakansie wat ons baie nader aan mekaar gebring het.
Keith is terug plaas toe en ek terug na Pretoria. Ek het net 6 maande by die patoloë gewerk en toe werk gekry by 'n groot hospitaal as suster in bevel van 'n chirurgiese saal. Dit het my uitstekend gepas, want ek het net nagdiens gewerk. Dus was ek sewe dae aan diens en sewe dae af. Eenkeer per maand het ek op die Greyhound bus geklim en by Keith in Belfast gaan kuier.
Hy het met skape geboer. Soms het ek gehelp met die boerdery soos dit 'n meisie betaam. Meeste van die kere was ek egter alleen by sy huisie. Dit was baie veilig in die 90's op die plase. Ek het die honde gevat, deur die stroompie geloop, die koppie uitgeklim en daar gesit en uitkyk na die mooi uitsig. Soms sou ek 'n piekniekmandjie pak en Keith sou middagete saam my geniet. Dit was idiliese tye. Ons liefde het al meer geblom en hy het gepraat van verloof raak en trou.
Dit was totdat ek sy snob van 'n na ontmoet het. Sy het in Bloemfintein gewoon en na Keith se pa se dood, het sy weer getrou, maar gereeld kom kyk of haar ou seuntjie hom gedra en of hy genoeg eet. Sy het onmiddelik nie van my gehou nie. Ek was 'n bedreiging vir haar, omdat sy kon sien hoe haar seun oor my voel.
Van die eerste dag af, het sy neergesien op my beroep, my voorkoms, ag eintlik alles wat ek gedoen het. Ek moes saam haar in die kamer op 'n ekstra bed slaap. Keith het in die sitkamer op 'n slaapsak geslaap.
Een aand het ek en hy gelê en tv kyk. Alles was doodonskuldig, behalwe dat ek in sy arm gelê het. Nie lank daarna het die kamerdeur oopgegaan en sy ma het uitgekom om tee te maak. Toe sy ons in die posisie van sonde volgens haar sien, het sy soos 'n tweejarige tantrum gegooi! Die kaste in die slaapkamer is oopgepluk en sy het uitgekom met komberse en kussings. Sy het nie 'n woord gesê nie, maar het soos 'n stout kind op die kombuisvloer gaan slaap. Keith het met haar probeer praat, maar sy het soos die dood geswyg.Tot die volgende oggend wat Keith vroeg weg is, om voer vir die skape te gaan uitsit. Toe kry sy my beet en vertel hoe 'n swak opvoeding ek gehad het en watse groot slet ek was. Haar seun het nie al die dinge aangehoor nie , want hy sou vir my opkom. Daar was niks fout met my opvoeding nie, inteendeel is ek baie streng grootgemaak. En 'n slet was ek beslis ook nie.
Ek het myself probeer verdedig, maar sy het my gestoomroller met haar tong en woorde. Sy wou nie glo dat haar seun kon lief wees vir so 'n tipe meisie nie.
Ek het omgedraai en my goed begin pak, sonder om verder na haar tierade te luister. Sak en pak het ek stoor toe geloop en daar vir Keith gewag.
Toe hy van die werk afkom, was ek steeds in trane. Niks wat hy gesê het, kon my van plan laat verander om nog te bly terwyl sy feeks van 'n ma nog daar was nie.
Hy het besluit om my na my ouerhuis in Nelspruit te neem. My pa was briesend en wou met alle mag die ou tannie bel. Ek was lief vir Keith en het hom omgepraat om dit nie te doen.
Terwyl sy ma daar was, is hy opgeroep om 'n armykamp te gaan doen vir 6 weke. Ons het mekaar saans gebel en liefdeswoordjies gefluister tot laatnag. Die skade deur sy na was egter gedoen en die oproepe het stelselmatig minder geword, totdat ons geen kontak meer gehad het nie. Ek het my lang maer blou-oog liefde verloor......
My hart was weereens gebreek.
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...