Kind grootmaak is nie kinderspeletjies nie. Dit weet almal. Sussa was eintlik 'n maklike kleinding. Sy het die normale tantrums gegooi soos enige kind. Ek was meestal betrokke by haar grootword proses en besluite wat geneem moes word.
Drie maande na haar geboorte, moes ek noodgedwonge teruggaan werk toe. Ek het soos 'n monster gevoel om haar soggens by die dagmoeder af te laai. Heelpad werk toe het ek gehuil, want ek het soos slegte ma gevoel. Hierdie dagmoeder was egter soos 'n engel uit die hemel. Sy het my kind soos goud opgepas. Ek dink Sussa was naderhand liewer vir haar as vir my! Haar dagmoederma het meeste van haar mylpale eerste aanskou. Gelukkig vir my, was sy tog te gretig om al die dinge met my te deel en as ek in middag, moeg gewerk, haar oplaai, het ons eers al die dinge bespreek. By dagmamma het sy ook die mooiste maniere geleer. Dagmamma was mos heeltyd by haar en nagmamma het net die slaaptyd stories gelees en die nag beleef. Sussa het vroeg deurgeslaap.
Ons sosiale lewe het beslis skade gely in die begin. Jaco sou die eerste ruk soos 'n nuwe Pa optree en help en tuis bly, terwyl sy vriende kuier. Hierdie fase het egter te gou verbygegaan. Hy het kort voor lank gesê dis sy reg as man om alleen saam die manne te kuier en voort te gaan asof hy nog single is. Hierdie was totaal en al 'n groot bummer vir my - back to earth!
Mans kom mos van Mars en ons van Venus. Ons dink en redeneer absoluut net anders. Waar ek by die huis sou bly met Sussa, sou Jaco gaan kuier asof hy nog single is en het nie 'n saak gehad nie. Nie dat hy 'n slegte pa was nie, sy dogter was sy oogappel. Maar 'n man se reg, is mos sy reg! Ek is seker ons oumas het so gevoel, kaalvoet en swanger agter die stoof! Ha! Nie in my lewe nie.
Sy ouers het niks fout gesien in hierdie optrede nie! Manlief is mos nie aan vroulief se rokspante vasgewerk nie! Miskien in hul tyd ja, maar tye het mos verander. Ek werk ook! Alhoewel ek op kraamverlof was en na 'n baba moes omsien, het dit nie juis saak gemaak nie.
Ons het baie begin baklei oor hierdie storie. Soos gewoonlik was dit soos water van 'n eend se rug af!
Sy het begin kleuterskooltjie bywoon. Ek was volstoom terug by die werk. Soggens vroeg haar gaan aflaai by kleuterskool, smiddae gaan haal, kosgemaak, wasgoed gewas, al die huiswerk gedoen, soos 'n goeie en getroue mamma en vrou (slaaf) dit moes doen, EN dan nog vir Jaco gelukkig probeer hou omdat hy afgeskeep voel. Dit na hy heerlik saam vriende kuier!
Sy was so 4 jaar oud en ons was al byna 7 jaar getroud, toe ek besluit het, genoeg is genoeg!
Ek het werk toe gekom die oggend, verlof ingesit, tasse gepak, my kind by kleuterskool gaan haal en pad gevat na Mpumalanga na my Suster hul. Ons het darem al selfone gehad in daardie tyd, maar ek het myne afgesit vir die hele naweek. Ons het lekker gekuier en ek het my oë uit my kop gehuil oor manlief wat niks meer omgee nie, my suster se skouers was breed. Sondagmiddag die pad terug gevat. Terug by die huis, was Jaco nie eers regtig kwaad nie, het nie eers behoorlik na my verduidelikings geluister nie. Hy het wel vir so kort rukkie probeer om meer aandag aan ons te gee. Ek het in die proses 'n nuwe goue horlosie as versoeningsgeskenk gekry. Hierdie het nie vreeslik lank gehou nie.
Back to normal, en back to the old times..................................
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...