Besluit - was dit die regte een?

30 1 0
                                    

Dit was eintlik 'n moeilike besluit aan die een kant. Aan die ander kant, maklik. Vir 'n tyd het my hart aan Keith behoort, maar sou sy ma nie heeltyd tussen ons kom nie?

Jaco was soos klei in my hande en was tog lief vir my en sy ouers het my onvoorwaardelik aanvaar.

Ek en Keith het vir oulaas gesels, my besluit gemaak. Die gesels gepaard met baie trane, het 'n paar uur lank aangehou. Op die end moes ons groet met seer harte en leē beloftes wat nooit nagekom is nie.

My oë dik van die huil, het ek gaan slaap. Ek moes noodgedwonge die verlede vergeet en 'n deel van my hart vir altyd toesluit.

Die volgende oggend het die son weer geskyn. My pa was oppad om my te kom haal vir my troue.

Die volgende week, was baie besig met die finale reëlings. My ma, suster en ouma het ook vir my 'n kitchentea gereël met my skoolvriendinne. Dit was heel anders as aanstaande skoonma s'n. Lekker informeel, simpel en goed gewyn! Vet pret!!!

Vrydagaand voor die troue het ek by my beste vriendin gaan oorslaap. Sy het nog nie trouplanne gehad nie, die los vrye lewe was vir haar te lekker. Haar broer, my hoërskool crush, wou nie die aand regtig met my praat nie. Hy was nog heimlik verlief op my. Ek het hom troue toe genooi, maar hy sou dit nie bywoon nie.

Die oggend van my troue, het die bewerasies my beetgekry. Dit was darem van opgewondenheid en nie koue voete. 'N ander vriendin het my kom oplaai en ons is eers na die gholfklub se kroeg, waar ek 'n paar shooters moes drink vir die senuwees. En die boeing was nog nie eers oor nie.

Ek sou eers later uitvind dat Jaco en sy vriende dieselfde idee gehad het en goed gekuier het voor die tyd om die senuwees te kalmeer.

By Cathy se huis, is ek behoorlik gepamperlang. Badwater met roosblare in, bottel sjampanje en goeie vriendinne. Een van hulle het my hare gedoen, terwyl die ander die grimering gedoen het.

Kort voor lank, was dit tyd om my trourok aan te trek. Die beeld in die spieël het my trane laat vloei. Ek het in my lewe nog nooit so mooi gelyk en gevoel nie!

Ons het vinnig nog 'n paar fotos geneem en toe is ek en my pa in die kar oppad kerk toe.

Almal was reeds daar. Dis darem die bruid se voorreg om so bietjie laat te wees, of hoe?

My suster het buite die kerk gewag om alles van sluier tot rok reg te trek.

Vir my pa het ek net bewerig gesê kom ons gaan trou!

Op begeleiding van die troumars, het ek in die kerk ingesweef.

Jaco was so senuagtig dat hy sommer die gang begin opstap het, ons tegemoet.

Hy het die sluier van my hoedjie afgehaal en gesoen, waarop my pa, tot groot vermaak van al ons gaste gesê het wag jou beurt af!

Wel die ys was gebreek. Ek onthou nie veel van die seremonie of preek nie. Nie ek of Jaco kon stilstaan van senuwees nie. Dit moes nou net verby! Uiteindelik het die dominee ons man en vrou verklaar en met 'n soen is die huwelik verseël onder luide toejuiging van ons vriende.

Die onthaal was fantasties. Ons het gedans en gekuier dat die biesies bewe.

Gelukkig was die toesprake nie eeue lank gewees nie. Daar is niks erger as om die bobbejaan agter die berg te gaan haal of om vanaf jou geboortedag te speech nie.

Jaco se toespraak was kort en kragtig: liefie, jy weet.......

En dit was al..

Die hoogtepunt van die aand was toe Jaco al die gaste op die dansbaan genooi het. Hy het die mikrofoon gevat en net vir my gesing! Ek en my meisie.... was sy liedjie vir my.

Dit was vet pret. Almal het gelag en gesels en gekuier tot baie laat.

Ons het die wittebrood afgeskop in 'n hotel kamer. Ek het sulke deurskynende sexy lingerie gekoop vir die aand. Voor ek bed toe is, wou ek eers vinnig bad. Met die afbuk om die kraan oop te maak, het my kop een of ander versteekte stortkop raakgestamp. Ek was sopnat! Nie eers gebad nie, maar toe wel gestort.

Die eerste aand waarvan almal praat, is eintlik net waar in stories.
Die sexy nagklere het net 5 minute aan my lyf gebly, maar daar het absoluut geen vuurwerke plaasgevind nie! Ons was doodmoeg en het sommer vinnig aan die slaap geraak.

What a beginning to married life!

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now