Ons vriende het begin minder word. Jaco is genooi na partytjies en kuiers. Ek is uitgesluit. Tipiese partypooper!
Hy en een van sy groot pêlle Robert was onafskeidbaar. Hul het mekaar al in die army ontmoet en die vriendskap was onbreekbaar. Robert was so paar jaar ouer as Jaco en steeds ongetroud. Meisies of jong vrouens het eenvoudig nie lank gehou nie. Hul sou doodverlief aan hom klou in die begin as gevolg van sy sjarme en sy geld, totdat hulle gesien het hoeveel hy drink en kuier.
Sandy was anders. Het ek gedink!
Hulle het by die werk ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag. Sy was blond, wulps (eintlik mollig), het soos 'n klein slet aangetrek en natuurlik baie gewillig! As ek sê sy het soos 'n slet aangetrek, was dit toppies wat al haar bates (vele daarvan), beklemtoon en laat uithang het.
Ek was seker meer konserwatief met kleredrag en sou alles bedek het. Nie dat ek in Crimpelene rokkies geloop het nie, maar my klere was beslis baie losser en gemakliker as hare. Sy was 'n arme sukkelende weduwee met 'n seun van so 4 jaar oud. Sy het haar Harry Oppenheimer in Robert raakgesien en haar kanse aangegryp.Dit was nie eers drie maande nie, toe het sy en haar kind sak en pak by hom ingetrek en hulle was verloof. Jaco het baie daar gekuier, want natuurlik kon sy soos die manne kuier!
Ek het haar eers ontmoet nadat hulle 'n paar maande verloof was. Om vanselfsprekende redes het Robert van die begin af nie baie by ons gekuier nie. Ek kon nie my kind blootstel aan uitermatige gedrinkery en gefuifery nie. So het Jaco maar altyd daar gaan kuier. En skielik was dit byna sy enigste vriende.
Die aand toe ek Sandy vir die eerste keer ontmoet het, het ek probeer om die stydbyl tussen my en Robert te begrawe en die beste Emsie Schoeman te wees wat ek kon.
Hulle het ingestap en op die bank gaan sit nádat ek aan die Pop voorgestel is. Onmiddelik het ek geweet: hier is moeilikheid, sommer baie GROOT moeilikheid. My vroulike intuïsie, sesde sintuig, beskerm-engel of wat ookal het ingeskop!
Ek het kliphard probeer die aand om my beste voetjie voor te sit. Ons het gedrink (ja ek het tóg probeer), my beste ete voorgesit en probeer kuier. Met die klem op probeer.
Toe hulle ry, sê ek vir Jaco: Sandy is agter jou lyf aan en sy gaan nie rus voor sy jou kry nie!
Jaco het natuurlik net vir my gesê dat ek jaloers is op die Bimbo.Ek kon die gevoel van onrus nie afskop nie!
Robert het baie keer skofte gewerk en was dan saans nie by hulle huis nie. Óf hy sou saam of sonder Jaco gaan kuier het by een of ander plek. Dan sou Sandy skielik vir Jaco bel huis toe of op sy selfoon om te hoor of Robert nog by hom is, aangesien hy haar oproepe geìgnoreer het.
Soms MOES Jaco dan na haar toe ry op hul plaas en by haar wag totdat Robsert eendag met sy dronkgat huis toe is.
Sandy het ook geskenkies vir my kind begin koop, want sy wou tog sooooo graag 'n dogtertjie hê.
Jaco het niks fout gesien met hierdie optrede nie. Hy het ook my suspisies afgeskryf as jaloesie. Teen die tyd was ons al 14 jaar getroud. En ja, die skeure en krake was baie duidelik in ons huwelik. Die treinspoor tussen ons, se sportjies het nooit bymekaar uitgkom nie. Ons het al hoe verder uitmekaar gegroei.
Hy het skielik saans soms ook begin skofte werk. Dan as hy huis toe kom, sommer dadelik in die spaarkamer gaan slaap om my kwansuis nie wakker te maak nie. Sy selfoon was met superglue aan hom vasgeplak. As hy gaan piepie het, bad, wat ookal, was die foon saam. In sy broeksak en nooit meer oop en bloot op die tafel nie. Vreemde oproepe, fluisteringe, sms'e middernagtelik, al die tekens was daar! Steeds het hy alles ontken.
Maar ek het net gweet!!! Hy is lankal nie meer myne nie! Hy maak iemand anders gelukkig. Ek is niks!
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...