Die res van die vakansie was opwindend. Etosha het 'n ander magiese skoonheid gebied met die uitgestrekte vlaktes en asemrowende sonsondergange.
Te gou was die vakansie verby en ons moes terugkeer na Pretoria en die beskawing.
My eerste jaar, het ek met vlieënde vaandels geslaag en die tweede het nuwe uitdagings gebring. As tweede jaers is ons uit die klein kamertjies geskuif na die koshuis oorkant die straat. Hier het ons klein 2 slaapkamer woonstelletjies gedeel en het meer vryheid gehad.
Marco het intussen na 'n groter bachelor woonstel getrek. Natuurlik het ek baie aande nie teruggegaan koshuis toe nie.
As tweede jaar studente moes ons na Middelburg hospitaal gaan om kraamopleiding te ondergaan. Die wonder van nuwe lewentjies was fantasties. Eintlik is mens te jonk op 19 om babatjies in die wêreld te help bring as jy nog nie jou eie kinders het nie. Dit was egter ervarings wat geld nie kan koop nie.
Die hospitaal en koshuis was 'n entjie uit die dorp en geeneen van ons het ons eie vervoer gehad nie. So saans nadat jy 'n 12 uur skof gewerk het, het almal in my ou kamertjie bymekaar gekom en ons het tv gekyk. Nog van daardie ou kleintjies. En gesels, mekaar se hare gesny, facials gedoen en raai wat? Gebrei. Ek het besluit om vir Marco 'n trui te brei. Natuurlik my eerste groot poging. Almal kon daardie tyd brei, want ons oumas het ons geleer. Ek het 'n fair isle trui aangepak in grys en wit. Wonder bo wonder het dit baie mooi en netjies uitgekom.My ouma het altyd gesê jy moet nooit vir 'n man 'n trui brei voordat die ring aan die vinger is nie. Ek het gedink dis 'n ouvrou storie, maar oor die volgende paar maande, het haar woorde stadig maar seker waar geword.
Ek was steeds doodverlief. Terwyl ek in Middelburg was om nuwe asempies die lig te laat sien, het Marco begin groener weivelde soek sonder my mede-wete.
My beste vriendin het die tekens raakgesien, maar ek was te verblind deur liefde of belustigheid om dit raak te sien.
Een af naweek terug in Pretoria was ek in Marco se woonstel. Daar was 'n vreemde tandeborsel in die badkamer, in sy kas 'n paar vroue t-hemde, vreemde oorbelle op die kas. Hy het gesê dis sy niggie s'n wat kom kuier het vanaf Windhoek. Dom soos ek is, het ek dit geglo.
Ons het nie daardie tyd selfone gehad nie en moes van telefoon hokkies en briewe gebruik maak. In Middelburg het die tussenposes van die briewe en oproepe minder geword.
'n Ander naweek was ek weer in Marco se woonstel. Hy was die heel naweek nie daar nie. Glo een of ander familiekrisis. Ek het geweet hy sou die Sondagaand terug wees. Intussen, om besig te bly, het ek sy woonstel van hoek tot kant skoongemaak. Daar was geen luuksheid van 'n wasmasjien nie en ek het die wasgoed in die bad getrap en met my hande gewas soos Ouma geleer het. Gestryk ook! Alles netjies op hul plek, heerlike boerekos op die stoof en gevulde hoender in die oond.
En die deur het oopgegaan en Marco het ingestap met al die heerlike reuke wat in die lug hang. Maar hy was nie alleen nie....
Die eienaar van die tandeborsel was saam. En dit was nie sy niggie nie........
Ek is in trane daar weg.
Alleen in die donker teruggeloop koshuis toe.
Hy was nie lank daarna by die koshuis. Ek moes die volgende dag terug wees in Middelburg en hy moes my terugvat.Die waarheid het toe uitgekom. Hy het die meisie ontmoet terwyl ek in Middelburg was. Die player in hom wat ek nooit wou raaksien nie, het na vore gekom. Kort voor lank het hul saamgeslaap. Sy was 'n maagd (soos ek ook was) en nadat hul die eerste keer saamgeslaap het, het sy so groot geskrik dat sy haar pa gebel het en hom alles vertel het. En hier het die familie krisis ingekom. Haar pa het Marco ontbied en omdat hy haar eerste was en daar 'n moontlikheid van swangerskap was, het haar pa hul gedwing om te trou. Stupid ek het die storie geglo.
Die volgende dag het hy my teruggevat Middelburg toe en die meisie het saamgery.Hierdie was baie vernederend, aangesien hul heeltyd in die kar gesit en koer het vir mekaar. Ek kon nie op 'n ander manier daar kom nie en moes die vernedering maar vir die tydperk hanteer.
Hy het nie omgegee nie. Sy nog minder.
En my hart was aan flarde.
Ek was klaar met mans.
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...