Ons het soos gewoonlik planne gehad vir die naweek. Al ons vriende sou die Saterdagaand gaan uiteet en eers in die kroeg bymekaarkom om op te warm vir die kuier.
Die oggend, toe ek wakker word, het ek geweet iets is nie reg nie. Iets is nie reg nie, maar eintlik is alles reg!
My lyf was nie my eie nie! Ek kon nie eers na my borste kyk nie so seer was dit. In my kop het ek sommetjies gemaak. Die antwoord het reg uitgewerk!
Maandag was nog te ver om te gaan vir 'n bloedtoets om my vermoede te bevestig. Ek het gou oor die pad kliniek toe gegaan waar ek 'n swangerskaptoets gedoen het.
Ek was te bang-opgewonde om die positiewe uitslag vir Jaco te gee. Netnou was die toets dalk vals positief en ek wou hom nie onnodig opgewonde maak nie. So ek sou moes wag tot Maandag.
Ons is uit die aand. Ek het my mond nie aan drank gesit nie en kon nie eet nie. My verskoning aan almal was 'n maagvirus. Vir die eerste keer in 'n lang tyd het die aand verskriklik stadig omgegaan. Ek kon nie wag om huis toe te gaan en in die bed te klim nie.
Uiteindelik in die vroeë oggend ure, is ons huis toe. Jaco was baie amoreus gewees. Ek wou hom nie naby my hê nie. Toe vertel ek hom maar van my vermoede. Hy was ook te bang om te gou opgewonde te raak.
Sondag het verby gesleep.
Uur vir uur.
Minuut vir minuut.
Sekond vir sekond.
Uiteindelik was dit Maandagoggend!
Jaco het sy werk gebel en gesê hy gaan bietjie laat wees. Ek is werk toe, het die nuwe suster net gegroet em gesê ek moet dringend iewers heen gaan.
Die patoloë was gelukkig oop toe ons bang-opgewonde daar aankom. My bloed is getrek. Ek sou binne 'n uur weet of dit regtig positief is. Jaco het my by werk afgelaai. Hy sou oor 'n uur bel om te hoor wat die uitslag is.
Ek het vrekmoeilik gekonsentreer op my werk. Gelukkig was dit stil. Die nuwe suster het seker gedink ek het 'n skroef of twee los, want ek kon nie stilsit nie.
Die uur was nog nie eers verby, toe is Jaco weer by my werk- hy het nooit eers gaan werk nie. Ek het nog nie gebel nie, te bang of opgewonde vir die nuus.
Hy het basies my gedwing om te bel.
Die suster aan die anderkant se woorde was baie geluk Mamma!
Jippee, ons was swanger!
Jaco het my opgetel, in die rondte geswaai, gesoen en uitgehardloop!
Ek het net verdwaas bly staan.
Nie eers vyf minute daarna, bel sy ma en daarna byna die hele familie om my geluk te wens.
Die nuus het soos 'n veldbrand versprei. Ons kon net sowel 'n advertensie in die koerant geplaas het. Jaco was die eerste man in die hele wye wêreld wat dit reggekry het om sy vrou swanger te maak.Naas ons troue, was hierdie een van die gelukkigste dae in ons lewens.
YOU ARE READING
Die stemme in die nag
RomanceSaans as mens wil slaap, dan kom al die stemme, die planne, ek moes dit of dat gedoen het........die duiwel fluister in jou oor, jy is baie brawer. Maar as die son opkom en al die realiteite van die lewe jou tref, wil jy soms dan n slaappil drink en...