Blootstelling aan armoede

29 0 0
                                    

Ons derde jaar was meestal gemeenskapsverpleegkunde. Hier is ons eie hartseer op die agtergrond geskuif.
Ons moes steeds al die ander vakke doen, maar baie van die prakties is in die armer gebiede van Pretoria gedoen onder al die kulture.

Dit was verskriklik hartseer om 'n ou tannie van in die 80 net op 'n kaal matras sonder enige beddegoed te sien slaap. By sommige van die huisgesinne, was dat daar nie kos was om te eet nie. Hul het nie mediese fondse gehad nie en die klinieksusters moes inspring en tuisbesoeke doen en medikasie vat. Wat verbasend was is dat daar in sommige van die huise egter groot televisiestelle, 'n stuk of 4 snotneus kindertjies wat in flenterklere rondgeloop het, maar ook asbakke vol sigarette en bottels vol drank. Van hulle was regtig net te sleg om te werk en het misbruik gemaak van al die gratis dienste en kospakkies. Ander het weer, al was hul omstandighede hoe erg, los werkies gehad. Die huisies en tuintjies netjies en skoon met vrolike tuintjies en tandlose glimlagte van dankbaarheid vir dit wat hulle gratis ontvang het.

Hierdie was 'n moeilike deel van ons opleiding. Jy was self nog emosioneel onvolwasse en moes hierdie mense help. Dit was ook baie verrykend. Elke aand kon ons net dankie sê vir alles wat ons het.
Ons kon in regte beddens slaap, het elke dag 3 heerlike etes gehad om te eet en 'n dak oor ons kop.

In hierdie jaar, het my suster wat 2 jaar jonger as ek was ook Pretoria toe getrek om Toerisme te kom swot. Ons ouers het besluit dat dit beter sou wees vir ons 2 om 'n woonstel te deel as 2 kinders se koshuisgelde. Ons het 'n klein eenslaapkamer woonstelletjie in Schoemanstraat, naby alles gekry. Gou was ons lekker ingerig met al die nodige meubels.

Sy het egter meer belang gestel in die manlike geslag as om te leer. Nie baie lank na haar intrek in die woonstel nie, het sy 'n kêrel ontmoet wat haar voete onder haar uitgeslaan het.

Sy het kort voor lank by hom ingetrek in sy woonstel naby Sunnypark. Ek het nie veel van 'n sê gehad nie, want wie luister vir jou ouer suster?

As my pa kom besigheid doen het in die stad, was sy by die woonstel. Ouers is nie onder kalkoene uitgebroei nie en hy het uitgevind wat aangaan, toe hy een aand voor my by die woonstel was en bietjie inspeksie gedoen het en byna niks van haar daar gekry het nie.

Ek moes haar probeer beskerm met allerhande witleuentjies. Dit het my pa net 'n rukkie tevrede gestel. Sy moes hom elke aand van die woonstel af bel om basies in te klok.

Maar wie luister nou vir jou pa? Of jou ousus?

Een aand het ek en sy by 'n roadhouse gaan milkshakes drink en sy het my uitgevra oor die tekens en simptome van swangerskap. Onthou ons het nie rekenaars in daardie tyd gehad nie en ons kon nie alles soos vandag google nie en ons ouers was nie bronne van inligting oor al die bytjies en blommetjies nie. Dit was verbode gesprekke. Ek het haar onmiddelik gevra of sy swanger is. Wat sy natuurlik ontken het.

Die waarheid kom tog altyd uit. Haar kêrel Jean het gou gaan ouers vra. Teen my ouers se wense het hul tog ingestem, want hul het vermoed dat daar tog 'n broodjie in die oond was. Die troue is vinniger gereël as wat jy kon mes sê. Dit was alles in 'n tuin gedoen en die onthaal sommer 'n braai met 'n paar naaste vriende en familie. Hanlu my suster en Jean was in die sewende hemel van geluk.

Ons, ek en my ouers het na die tyd gaan kuier by vriende van hulle in Pretoria waar my pa duidelik vir almal vertel het hoe gekant hy teen die skielike troue was en dat hy vermoed iets is aan die gang (my suster het nog steeds enige swangerskap ontken).

Tydens die braai het ek vir Linda en haar man Hendrik ontmoet. Ons het dadelik 'n hond uit 'n bos gekuier. Hulle het my vertel van 'n baie oulike vriend van hulle, Keith wat boer op Belfast en meisieloos is. Volgens hulle het daar alreeds trouklokkies gelui en dit nog voordat ons ontmoet het. En ek kon nie wag om hom te ontmoet nie, maar dit moes wag tot na my derdejaar eksamen.

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now