Beloftes en werk

31 0 0
                                    

Die tyd het gevlieg. Nadat ons so twee jaar getroud was, het ons nogal lekker koppe gestamp. Ek kon nie heeltemal gewoond raak daaraan dat hy baie keer eers sy ouers se raad gevra het en nie myne nie, voordat ons belangrike besluite neem. Ek is direk na skool uit die huis en was baie selfstandig.  Sy ma was en is steeds die een met die hef in die hand. Haar woord was wet. Sy pa weer, was so mak soos 'n lammetjie. Hy het baie na sy pa geaard. Ek dink soms dat my persoonlikheid baie sterker was as syne. My ja was my ja en nee was nee.  Jaco het aan almal beloftes gemaak wat nie altyd nagekom is nie, want hy wou nie mense se gevoelens seermaak nie. Ek het weer gevoel dat mens nie beloftes aan mense maak en dit nie nakom nie.

Ons is soms na 'n braai of iets genooi, maar het dan reeds ander reëlings met ander mense gehad. Ek sou sê dat ons liewers 'n ander keer kom kuier, maar Jaco het altyd belowe dat ons by die mense sou uitkom, wat dan nie gebeur het nie.  Baie keer was sy vriende vies daaroor, maar hul het naderhand gewoond geraak daaraan en dan ook vir my gevra of ons nou regtig sou kom of nie. Dit het soms struwelings tussen ons veroorsaak.

Van stilsit by die woonstel naweke was daar geen sprake nie. Ons was altyd besig. Braai, partytjie, bootry en nog wat. Ons het lekker gekuier saam met ons vriende.
Ons het min alleentye gehad oor naweke. Vriende het 'n groot rol in Jaco se lewe gespeel. Die meeste van sy vriende het al 'n lang pad net hom gestap. Van hul was saam op skool, het saam grootgeword, in army saam of saamgewerk. Dit was hegte vriendskappe. Ek en die ander vrouens of meisies moes noodgedwonge ook vriende word. Gelukkig het ons almal goed oor die weg gekom.

By die werk het ons besiger geraak. Daar het allerhande nuwe wetgewings en reëls uitgekom. Ons moes nou primêre gesondheid en psigiatrie asook voorgeboortesorg doen. Dit was interessant en bevredigend. Dit het ook soms vir baie pret in die kliniek gesorg.

Asook benoude oomblikke.

Ek het een dag 'n 16 jarige meisie in my kantoor gehad. Sy het gesê dat sy dalk swanger kan wees. Haar ouers het niks hiervan geweet nie. Sy het 'n vreeslike stywe jean aangehad en het beslis nie swanger gelyk nie. Die lyfie was so klein en maer. Met my ondersoek vind ons uit dat sy moet sewe maande swanger wees. Die arme kind was in trane. Haar ouers sou haar vermoor, volgens haar.  En dit was te laat vir 'n aborsie - wat heeltemal teen my geloof is, moet ek bysê. Terwyl ons sit en die gevolge bespreek, was daar 'n klop aan my kantoordeur.

Toe ek oopmaak, staan haar ma daar! Dit was verskriklik! Jy het as suster 'n konfedensiële verhouding met jou pasiënt en sy het my gevra voor die tyd dat haar ouers nie mag weet nie. Wel hierdie was regtig 'n netelige situasie gewees.  Ek moes haar ma laat inkom. Sy het ons basies op heterdaad betrap en 'n ma het mos maar 'n sesde sintuig. Sy het net geweet. Wel, ek moes toe maar skeidsregter en berader speel. Die dogter moes haar ma vertel van die swangerskap. Na baie trane en verwyte en ook berading van my kant af, is hulle na 'n ruk uit my kantoor. Die situasie was vir eers opgelos en die voornemende ma het elke keer vir haar voorgeboorte ondersoeke na my teruggekom saam met haar eie ma.
Die vrede was vir eers bewaar.

Daar het nog ander snaakse dinge ook gebeur met ons by die werk.

Elke ses maande het KANSA daarheen gekom en ons het 'n papsmeerdag gratis gehou vir vrouens. Dit is wyd en syd in die dorp adverteer. Een van ons susters moes gewoonlik help, omdat die aanvraag so groot was.
Die gelukkige wenner was gewoonlik ek om een of ander rede.

By een van die afdelings van die munisipaliteit het 'n blanke man gewerk wat so bietjie geestelik gestrem was. Hy het maar die odd jobs gedoen soos aflewerings en skoonmaak en die plaaslike koerantjie koop en aflewer by almal wat wou hê. Een van die papsmeerdae, het een van sy base vir hom vertel dat ons 'n papsmeerdag het en dat hy moet kom. Toe hy by my uitkom, kom ek agter hulle het hom gestuur vir die episode. Maar hul het vir hom vertel dis pap en worsdag.  Ek het my hande vol gehad om te probeer verduidelik sonder te veel detail natuurlik, dat dit net vir vrouens is en nie vir mans nie!  Die arme man het nie 'n idee gehad wat 'n papsmeer is nie en ek was ook nie van plan om vir hom te verduidelik nie.  Hy kon nie verstaan dat hy nie kon deel in die dag nie  Hy was vir weke daarna kwaad vir my en sy baas!

Na bietjie meer as 2 jaar se saamwerk het die een suster bedank. Haar man sou aftree en sy saam met hom. Onderhoude het begin vir 'n nuwe klinieksuster saam ons oorblywende twee.
Ek het nie insette gehad nie, omdat ek die junior was. Gelukkig het die persoon wat gekies het jare se ondervinding gehad in die hospitaal en was baie perfeksionisties. Sy sou die 1ste September begin werk.

Ons het afskeid gehou van die ander suster en 'n nuwe era by die werk het ons ingewag.

Nie net 'n nuwe era by die werk nie, maar my en Jaco se lewens sou ook verander.....

Die stemme in die nagWhere stories live. Discover now