My Thailand nuusbriewe 2006 – 2008
Die eerste Thailand reis (26 jaar oud)
1.1 Yvette se eerste nuusbrief
15 September 2006
Hi almal!
Wel, wat kan ek sê? Ek is hier, met baie moeite, maar ek's hier.
Julle het seker nou al teen die tyd gehoor wat alles met my gebeur het. Dis soos 'n storie uit 'n fliek. Die waarheid is vreemder as fiksie. Die aand voor die vlug is 'n man doodgeskiet in ons woonstelblok.
Ek kon nie slaap daai aand nie want ek was so angsbevalle. Dis die eerste keer in my lewe dat ek die lakens natgesweet van vrees. Ma het ingekom en kom huil op 'n stadium en my nog erger laat voel. Natuurlik het ek op haar geskreeu om iewers anders te gaan huil wat my soos nog 'n groter poephol laat voel het. En toe hoor ons die skote. Die musikant wat doodgeskiet is was 'n dwelmverslaafde. Sy ma het in die gange afgehardkloop en geroep om hulp. Die twee jong manne langsaan het haar gaan help. Maar dit was te laat, haar seun is dood minute later. Ons het uitgevind hy was dalk betrokke by die mafia of so iets. Die tannie het die agterdeur oopgehou vir die hondjie en dis hoe die misdadigers ingekom het.
Dit was alklaar erg genoeg. Maar toe ons by die lughawe aankom hoor ons dat my vlug vertraag sou word. Elke paar uur moes ons weer rapporteer net om weer te hoor dit word nog 'n paar uur vertraag. Ons het 11 uur in die oggend daar opgedaag en ek het eers 8 uur die aand gevlieg. Elke keer wat ons gedink het dis nou tyd vir my om te gaan het ek en ma van voor af begin huil. Dit het seker drie of vier keer gebeur. Ek was letterlik leeggehuil teen die tyd wat ek in Thailand geland het. Op Woensdag en weer op Donderdag is albei my vlugte met omtrent 12 ure elk uitgestel. Dit was 'n baie uitputtende ondervinding. Dis soos my reisagent later gesê het; "dis die ergste wat kon gebeur het".
Die silver randjie van die donker wolk was dat ek op die vlug 'n klomp nuwe vriende gemaak het. Dit was ook Jodene se eerste reisondervinding, en die arme meisie se beursie, geld en ID is gesteel, en haar baggasie het weggeraak. So ek het my seëning getel, hoor!
Ons het pêlle gemaak met Rajan, 'n Indiese man van Pietermaritzburg, en hy het my en Jodene, soos 'n regte heer gehelp. As dit nie vir hom was nie weet ek nie wat ek sou gedoen het nie. Hy het selfs sy foonkaard met ons gedeel sodat ons ons families kon bel toe ons op Doha geland het.
Toe ek 'n kind was het my ma my groot gemaak op flieks soos "Not without my daughter" en gruwelstories van westerse vrouens wat verdwyn het in die Midde Ooste en nooit weer gesien of van gehoor is nie. Dit was die laaste plek waar ek ooit wou oor stop om nie te praat van 'n hele dag oortebly nie. Maar dit blyk die liewe Vader het ander planne gehad. Om my vrese in die gesig te staar en my kinderdae nagmerries te oorkom het my laat besef die liewe Heer is altyd met my maak nie saak waar in die wêreld ek myself bevind nie. Niks is groter as my God nie.
Doha. Dis 'n anderste plek daai. Die mans staar jou uit jou stewels uit. Hulle vrouens dra mos, ek dink hul noem dit 'n "burqa" of "hijab", daai lang swart kopdoeke waar slegs die oë wys. Die mans is maar lekker ongeskik maar gelukkig het hulle na Rajan geluister. Natuurlik het die metaalverklikker afgegaan toe ek deur dit moes stap. Die wagte was ewe skielik nog kwaaier. Ek het my Caterpillar skoene uitgetrek en gevoel soos 'n heldin toe ek deur die metaalverklikker loop en dis tjoepstil die tweede keer. Ek het my oorwinnaars-glimlag gestraal vir die wagte. Ek het die metaaldraak versmaai. Tog het ek my les geleer: moet nooit weer met Caterpillars op 'n internasionale vlug deur die Midde Ooste gaan nie. Dis vreesaanjaend.

YOU ARE READING
Briewe van die Ander Kant
HumorDie dolkop avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.