Derde nuusbrief
21 September 2006
Wag, dit word erger! Die ander dag is daar vir my verduidelik WAAROM daar nooit toiletpapier is nie. Hulle gebruik nie toiletpapier nie. Daar is vir my gesê dat as ek dit will gebruik mag ek dit nie in die toilet af gooi nie want dit gaan die drein blok. Nou verstaan ek waarom daar altyd 'n asblik vol vuil toiletpapier in die badkamers is. My eie, persoonlike "Nightmare on Elm Street"...
Dit gaan goed met die skool gee. Verbeel ek my of is die kinders hier net baie stouter as ons Afrikaanse kinders? Vandag het ek Graad Eentjies gehad en hulle aandagspan het gehou vir 10 minute, toe moes ek 'n fisiese speletjie met hulle doen. 'n Ruk daarna het hulle besluit ek moet nou hul boeke merk en daar storm hulle almal gelyk op my af, soos die Franse op die Bastille.
Ek's baie opgewonde want ek gaan Vrydag, my af dag, op 'n uitstappie gaan om te gaan kyk na van die besienswaardighede in die dorp. Ek sien baie uit daarna om uiteindelik "The Tourist" te speel. Hier in Phetchaburi provinsie waar ek woon is daar baie tempels en 'n somerpaleis wat 'n vorige koning, Rama IV, gebou het op die berg. Daar is ook 'n museum en sterrewag op die berg. Die plek se naam is "Khao Wang". Hier is ook baie apies, soos in Suid Afrika se plaaslike gebiede.
Elke huis het 'n heilige groef en elke skool het ook 'n heiligdom met 'n Buddabeeld. Dis vir my interessant dat as ek na die beelde kyk, voel ek niks nie. Met ander woorde, daar is geen krag daarin nie. Dis dood. Die mense aanbid 'n dooie ding. Ek sê dit natuurlik nie vir enige iemand nie, want ek is baie sensitief vir die mense hier se kultuur en geloof en ek respekteer hulle, selfs al stem ek nie saam met hulle nie. Ek het van die begin geweet my getuienis sou 'n stil getuienis wees. Dis ook hoe ek is, so dit werk goed.
As mens in 'n huis ingaan, trek jy jou skoene uit. Dis voetskimmelhemel met hierdie hitte en humiditeit. Die vloere is ook altyd nat. Dis 'n eindelose stryd wat net nie kan gewen word nie.
As ek 'n rit agter op 'n motorfiets kry, saam met die mense van die kantoor, moet ek sysaal sit. Dis hoe dames ry! Ek kan met trots sê my balans het al baie beter geword. Vrouens mag ook nie hul skouers wys nie, maar been wys is aanvaarbaar. Ek sien 'n mou "tan" in my toekoms.
Die mense staar maar nog, maar die kinders raak gewoond aan my. Gister is ek na 'n nuwe skool en het ek 'n kleuterskoolklassie gehad. Een klein engeltjie het die heeltyd my arm gestreel en geraak aan my moesies. Dit was nogals oulik dat my arm haar so gefassineer het.
Ek het ook 'n Thai bynaam gekry: "Mali". Dit beteken jasmyn en is die handelsmerk vir melk in Thailand. Die assosiasie is duidelik. Ek is so wit soos 'n lelie. In Suid Afrika was dit die rede vir aanhoudende getergery deur my broers. In Thailand is dit 'n teken van gesogdheid. Ek moet sê, ek geniet die verfrissende verandering.
My gasfamilie kyk baie mooi na my, en elke dag probeer ek iets met brandrissies eet sodat ek gewoond kan raak aan die plaaslike kookkuns. Maar dit gaan maar stadig. Ek is soos 'n babatjie wat op soliede kos gesit word. Ek's lekker kieskeurig.
Ek het ook al twee nuwe vrugte hier geëet. Die een is die grootte van 'n appel, groen buite en lyk soos 'n pynappel met stekels buite. Die binnekantste vleis is wit met swart pitte. Dit proe soos 'n lietsjie en peer gemeng. Ek dink hulle noem dit 'n "dragon fruit". Die ander vrug is groen buite en wit binne. As jy dit byt is dit hard soos 'n appel, maar dit proe ook baie soos 'n peer. Ek dink dit word 'n "Noi Na", "custard apple" of "sugar apple" genoem. Maar ek staan onder korreksie. Die taal versperring is nog 'n groot struikelblok.
Die erwe in Thailand is baie klein. Dis basies net die grootte van die huis met 'n bietjie grond om dit. Ek besef nou hoe reusagitg ons erwe in Pretoria is. Dis gewoontlik die grootte van nog twee huise. Ons Suid Afrikaaners is baie gelukkig.
Ek het die see hier naby besoek, Dis 'n 30 minute rit na Cha-Am toe. Cha-Am is niks in vergelyking met "The Beach" in die fliek of selfs ons ongerepte strande in Suid Afrika nie. Die water is so groenerige blou en daar is omtrent geen golwe nie. Ek hoor dis nie 'n swem strand nie, so miskien sal ek nog my opinie verander.
Eergister het ek die bus gevat vanaf een van die skole terug huistoe. Julle sal my nie glo nie maar die bus, wat oop is agter, met sitplekke langs die kante, kon nie vinniger gaan as 30 kilometer per uur nie. Die rit wat gewoontik 'n half uur vat, het 'n uur en 'n half gevat. Jip. Ek dog ek paas uit van die hitte. Dit was in dieselfde toestand as ons Suid Afrikaanse taxis. Dis basies aanmekaar geplak met spoeg en gom. Enige oomblik gaan 'n moer of 'n bout losraak en dan sal die hele ding uitmekaar val.
Thailand is ook die geboorteplek van die Moordmiere. Hulle lyk so klein en kostelik. Wag tot hulle jou byt! Jy sal dit nooit vergeet nie!
Hier is ook baie van dieselfde handelsmerke as in Suid Afrika: Nescafé, Dove, Caltex, Head and shoulders en al die bekende skoonheidsprodukte.
Wel, dis my "Eat Pray Love" nuus vir eers.
Dankie vir julle almal se antwoorde. Ek's bly om te hoor dit gaan goed met julle.
Baie groete en liefde
Yvette
Teacher Mali
BINABASA MO ANG
Briewe van die Ander Kant
HumorDie dol avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.