4.1.5 Bridget Jones, Sneeuwitjie, Eowyn en al die vriende en vyande

4 0 0
                                    


Vyfde nuusbrief

1 November 2006


Een van die mooi dae is dit my twee maande Thailand herdenking. Wag. Dis vandag. Op die kop! Ek geniet myself gate uit! Ek het ook nou begin vriende maak, so dis nie meer "Hoekie vir Eensames" aan die kant nie maar meer soos die TV reeks "Friends".


Almal wat weet het my gewaarsku dat die eerste paar maande maar moeilik gaan wees omdat die kultuur so anders is en mens jou familie mis. Plus jy voel erg heimwee. Die eerste paar weke was 'n skok maar ek is verbaas hoe vinnig ek werklik aangepas het.


Op Vrydag 6 Oktober 2006 moes ek intrek in 'n nuwe plek (die onderwysershuis wat ek deel met twee Hongaarse onderwyseresse). Dit was maar baie moeilik. Die plek was vieslik vuil. Maar, soos ma gesê het; ek het soos 'n regte boeremeisie ingespring en die Jik nader getrek en skoongemaak soos 'n Voortrekker. Ouma, is jy trots?!


Ek het mure, vloere, vensters, toilette, spinnerakke en swamboompies wat in die yskas gefloreer het beetgepak met die Jik en die vullis het sleg tweede gekom. Ek't gekom. Ek't oorkom. Ek't oorwin. Soos 'n wafferse, Suid Afrikaanse Sneeuwitjie sonder die balrok. Ek is bietjie geskok in my Europese vriende se standaarde maar net nog meer trots om 'n boeremeisie te wees.


In die begin was ek stoksielalleen nes "Bridget Jones" maar sonder die warm, winterspajamas en Celine Dion wat "All by myself" vir my sing. Die twee meisies was op vakansie en het eers so week gelede hier opgedaag. Ek was baie eensaam en het net gewens vir geselskap. Nou dat die meisies terug is maak hulle my mal met hulle onnetheid en ek wens weer ek is alleen en eensaam. Mens raak maar gewoond. Dis verbasend.


Gelukkig het ek baie pêlle gemaak. Paula, 'n Amerikaner van so 40 plus het my al genooi om by die Onniehuis in Cha-am te kom kuier. Daai einste dag toe ek ingetrek het in die nuwe plek in. Ek was papsopnat van sweet en skoonmaakmiddels, die vloere was vol seeperige Jik toe kom Paula daar aan en vra of ek by hul wil kom kuier vir die naweek? (My woonstel is in Phetchaburi. Hulle woonstel is in Cha-am, 'n seedorp, so 30 minute se busrit van Phetchaburi af.)


Paula het 'n "soy" (straat) hondjie aangeneem nadat hy by die dood omgedraai het toe die ander straathonde hom wou vermorsel ("Because of Winn-Dixie"). Dis maar oorlewing van die sterkstes hier vir die arme straathonde soos in "Strays". Hy is die oulikste babahondjie, lyk soos 'n Staffie-kruis, en sy byt is definitief erger as sy blaf. Sy naam is herlaas, Tex, vernoem na daai bekende dorp, Texas, waar Paula vandaan kom.


Simon bly saam met Paula en hy is 27 en kom van Quebec. (Broers, bly stil! Dis nie die fliek "French kiss" nie.) Mens spreek dit "Ka-beck" uit. Hy is Frans-Kanadees en het belowe om my Frans te leer praat. Almal sê seker nou: "Dank Vader tog! Uiteindelik!"


Maar intussen het Paula en Simon vir hulle ander werk gekry. Hulle woon nou in die suide van Thailand. Hulle was ook ontevrede met ons werkgewer. 


Dan is daar Jay, 'n Amerikaner in sy veertigs. Hy was baie gaaf en het al my vrae beantwoord. Jay sê ons werkgewer is die duiwel self ("The devil wears Prada"). Ernstiglik.Hy het vir 'n jaar en 'n half vir hulle gewerk maar hy het ook intussen sy tasse gepak en is Saudi Arabië toe soos "Laurence of Arabia".


Laastens is daar nog Carol, ook 'n Kanadees, en Mike 'n Australiër. Hy het vir hom 'n Thai vroutjie gekry en 'n motorfietsie en hy is mooi ingeburger, soos 'n regte, Thai "Crocodile Dundee". Die Westerse mans hou so twee maande dan het 'n Thai Slapende Skone hul mooi gevang! So alle potensiële Engelse onnies, wees maar gewaarsku. Julle word gejag met 'n seer hart. 

Briewe van die Ander KantWhere stories live. Discover now