Die dolkop avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.
My ouer sibbe was inspirerend. Om die gehate ertjies onder die skorsie weg te skraap was vernuftig verby. Om voor te gee asof hul die yskoue, gestolde, eierige-makaroni geëet het, maar dit dan heimlik in die toilet gaan uitspoeg het, was eureka lofwaardig. Om pa se sjokolades skelmpies te steel was 'n heldedaad van FBI-waardige proporsies. 'n Magdom stukkies inteligensie was geleer deur observasie van daai profesionele operatiewes in die veld. Hulle was ongelooflik. Ek was in 'n trans van verwondering.
Ek is jou tipiese jongste kind; 'n voor-op-die-wa, klein snip. (Volgens die sibbe, natuurlik). Die ouer kinders was slim genoeg om nie die ouers te tempteer met astrante vrae wat hulle in die moeilikheid sou kry nie. Dis waarvoor ek daar was! Ek was nog nie opgelei in die subtiele kuns van hoe om ander te kry om die stoutgat vrae te vra nie.
My ma het my broers gedwing om met my te speel. Ek het selfs 'n foto van my en my broers inballerina rokkies wat ek natuurlik aanhoudend gebruik om my broers te terg. (Let wel leser, hulle het die tutus vrywilliglik aangetrek) Outboet en kleinboet rol hul oë en ek geniet die gevoel van hul lekker terugkry. 'n Wen-wen situasie vir almal. Soete wraak.
Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.
Tog het ek my ouer sibbe verafgod. Ek het 'n oudste suster en twee ouer broers en hulle is almal geharde Generasie Xers. Ek, aan die ander kant, het my verskyning gemaak met die aanbreek van die nuwe dekade van die "Werkende Meisie" en die "Grendelsleutel Kind". By die gat-end van die siniese Xers maar voor die hiper-sensitiewe Millenniërs.
Ons is die bruggenerasie, die "Xenniërs". Ek het 'n analoge kinderlewe gehad, soos die Xers, waar ons buite gespeel het in die modder (dis nou as my broers die klein snotneus toegelaat het om saamtespeel) maar my tiener jare was digitaal (soos die Millenniërs) met rekenaar speletjies soos "Pacman" en "Digger". Dis nou ook as, en dis 'n groot as, my broers en hul maats nie die rekenaar geannekseer het nie.
Ons kinders het saamgestaan deur moeilike tye; twee egskeidings en 'n string paddas, ek bedoel, kêrels. My ouers is geskei toe ek omtrent 8 jaar oud was. Ons het ons pa so een keer elke paar maande gesien. Hy is oorlede in 2004 aan kanker.
Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.
Dit was nie maklik nie. My ma moes vier jong kinders aan die lewe hou op 'n skraal biblioteekaressesalaris. Ons het oorleef en ons is sterker daarvoor. Ek bedoel, ons het basies geleer om te speel met gemors en dit te laat hou vir eeue. Ek het nie 'n Barbiepop vir Kersfees gekry nie, ek het 'n Cindypop gekry. Jy kan net dink hoe die trane gevloei het. Ek grap net.
Op daardie tydstip, veral in die begin, reg na my ouers geskei is, was my ma by die werk gedurende die dag. So van jongs af het ek geleer om op myself staat te maak. My suster was altyd by haar kêrel of vriendinne se huise. My broers was altyd uit met hul maats. Ek het my honde en my sprokies, droomwêreld, gewortel in flieks, gehad.
Ons het flieks, en die akteurs wat in hul speel, gelief. Selfs as kinders het ons al die sterre se name en al die flieks waarin hulle gespeel het uit ons koppe geken. Dit was die dae van "Top Gun", "Indiana Jones" en "Star Wars". Die oorspronklikes.
Oscaraand het ons om die televisie gesit, die "Oscars" gekyk en gedebateer of ons saam met die Akademie gestem het. Want almal weet tieners weet beter. (Nota aan my Generasie Z lesers: onthou dit was die ou dae toe families slegs een televisiestel gehad het en almal dieselfde program gekyk het, op dieselfde tyd).
Een van ons familielede het ook videos "versamel" (Nog 'n nota aan Generasie Z; in daai dae was daar nog nie "YouTube" of onwettige fliekwebtuistes nie en kon ons nie al die nuutse flieks kyk met slegs die flik van 'n pols, of die druk van 'n knoppie nie).
Met die woord "versamel" bedoel ek die bogenoemde familielid het die videos gehuur by die videowinkel en dit dan onwettiglik gedupliseer by die huis en so het hy 'n baie indrukwekkende videoversameling opgebou. Ek was dol oor al die Walt Disney tekenprentjies, "The Sound of Music", "My Fair Lady" en al die ander klassieke films. Dit was die begin van my liefdesverhouding met film.
Op een stadium het my oudste broer dit oorweeg om filmskool toe te gaan. Ons het 'n videokamera van die familielid in die hande gekry en ouboet het begin amateur flieks maak. Ek was die enigste meisie op die stadium, want my suster het teen daai tyd al uit die huis uit getrek, so ek het altyd die vroulike hoofrol gespeel (hey, kleinsus het tog wel 'n doel!) My jonger broer was die slagoffer. My oudeste broer se beste vriend was die antagonis. Daar was altyd 'n gevegstoneel en 'n skuifel tussen die twee groot seuns. Dit was opwindend. Ek kon nie glo dat hulle my toelaat om saam met hulle te speel nie!
Nou dat ek daaroor nadink, is dit nie net die perfekte geboorteorde model nie? Die oudste kind is populêr en onafhanklik en verlaat die huis op 18. Die oudste seun is die natuurlike, gebore leier. Die middelkind raak verlore in die chaos en word die hanswors en die jongste kind is die voor-op-die-wa, bedorwe brokkie.
Onder die ouer kinders se skrikbewind word die jongste konstant op haar plek gesit want sy word mos nou heeltemal te groot vir haar skoene. En so gaan die sirkel van die lewe. Soos ek sê, dit was oorlewing van die sterkstes.
Vandag is my suster getroud met kinders en het haar passie vir kuns omskep in 'n suksesvolle kleinbesigheid. My oudste broer werk in rekenaars. Hy is 'n goeie man en 'n wonderlike pa. My jonger broer is ook 'n uitstekende vader met baie pa-grappies en 'n derde baba; 'n grafieseontwerpbesigheid.
Soos die idealistiese Xenniër en tipiese jongste kind wat ek is, het ek gerebelleer teen die samelewing se norme en eerder my drome gevolg. Dus hou ek my kunstige, werklose, armgatmond styf toe.
Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.