4.2.4 Die meermin van Skilpad Eiland en die shopaholic van Pretoria

2 0 0
                                    


Elfde nuusbrief (Tweede trip. Vierde nuusbrief)

8 Mei 2008


Ek staan nou al verby die agt maande merk, kan julle dit glo? Dis verbasend hoe gelukkig en gevestig ek nou is. Skool begin vir die onnies op Maandag die 12de Mei en vir die skoliere die 16de Mei. Dan's dit weer vyf maande se gewoel en gewerfskaf ('n lekker lang kwartaal!).


Ma is ook nou al hier vir 'n maand en dit was 'n lekker verandering om bietjie geselskap te hê vir 'n slag. Dis vir my baie interessant om haar nuusbriewe so te lees, en haar eerste ondervindinge van Thailand herinner my nogal baie aan hoe nuut en eienaardig als vir my gevoel het in die begin. Ek kom agter ek is nou al so ingeburger en gewoond (byvoorbeeld die straathonde en vervoerstelsel) dat ek nie eens meer die ellende en snaaksighede hier om my raaksien nie. Dan's ma se insig nogal interessant.


Ma het geland die 7de April. Dit was so vreemd om haar weer die eerste keer in sewe maande te sien. Later het sy aan my erken dat die eerste ding wat sy opgemerk het, was hoe baie gewig ek opgetel het. Ons was albei baie bly om mekaar weer te sien. Gelukkig het ons nie so groot bohaai gemaak soos twee ander tannies wat geskreeu het en na mekaar gehardloop het en mekaar amper laat om val soos hul omhels het nie.


Meneer Atticus ("To Kill A Mockingbird"), Ma se Britse baas, het ons na Ma se nuwe woonstel geneem. Dit was 'n oopplan, eenslaapkamer woonstel op die sesde verdieping. Daar was net een dubbelbed en geen duvets. Ons het 'n taxi gekry en gou my tasse gaan haal by my Thai vriendin se woonstel en daarna is ons na die naaste winkelsentrum om vir ma 'n deken te koop. Ons het 'n pienke gekry wat nie te duur was nie. 


Tant Bettie het vir ma, baie onverantwoordelik, haar slaappil, wat die dokter vir haar voorgeskryf het, gegee en ma het dit gedrink voor sy gaan slaap het. Dit was nogal sterk want sy was uit soos 'n kers voor haar kop die kussing getref het.


In die middel van die nag word ma wakker en loop na die badkamer toe. Maar sy was so dronk soos 'n tor van die slaappil dat sy nie eens die deur gesien het nie en haarself vasgestamp het in die badkamermuur. Sy kon net nie by die deur uitkom nie. Daar was 'n waaier wat daar gestaan het en sy't oor en oor haarself in die waaier vasgestamp, soveel so dat sy haar vinger verstuit het (en amper die arme waaier gebreek het. Sy raam was skeef van daai dag af). Sy't begin skreeu, maar net aangehou in die muur en waaier in vasloop soos 'n afkophoender. 


Ek het opgespring, haar ander hand gevat en haar gelei na die badkameropening, vir haar gewag terwyl sy piepie en haar terug gelei na die bed toe. Dit was baie erg vir my gewees om haar so te sien. Ek was geskok. En ek was baie kwaad vir Tant Bettie. Dokters skryf pille voor vir 'n rede, my magties! Jy kan nie net gaan staan en jou voorgeskrewe pille vir iemand anders gee nie.


Maar die ergste was dat 'n onaangename, naar gevoel my in die pit van my maag getref het. 'n Onstellende voorgevoel het oor my gespoel.


My ma het haar hele lewe lank gesukkel met depressie en ek het van kleins af gevoel dis my verantwoordelikheid om 'n skouer vir haar te wees om op te huil. Ek het geluister na haar kêrel probleme of toe haar werk "haar siel doodgemaak het". Ek het my ma verafgod. Dit was ons twee teen die wêreld. Baie soos die fliek "Mermaids".


Maar dit was laat in die aand en die realiteit van wat ek nou net gesien het, het nog 'n sterk indruk op my brein gelaat en ek was nog besig om dit te verwerk. Ek het gesukkel om aan die slaap te raak daarna. Genadiglik het ek wel eventueel "uitgepass".

Briewe van die Ander KantWhere stories live. Discover now