Die dolkop avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.
4.2.1 Daar (Suid Afrika) en weer terug (Thailand), 'n Hobbit se verhaal
Agtste nuusbrief (Tweede trip. Eerste nuusbrief)
28 September 2007
Soos meeste van julle seker al gehoor het, is ek sak en pak terug Suid Afrika toe vroeg in Maart 2007. Genoeg was net genoeg. Ek kon net nie meer die leuens vat nie. My geld was besig om vining opteraak en ek was hondsiek gewees. Eers Mangelonsteking. Antibiotika. Toe griep. Antibiotika. Toe weer griep. Antibiotika. Toe 'n Auto-immuun siekte oor al die Antibiotika (en seker ook oor al die Hepatitis inenting inspuitings wat hulle my gegee het tot hulle besef het ek het Geelsug gehad as 'n kind en summier opgehou het). Als sonder Medies en op 'n vryskut salaris.
Ek moes halfde van my geld uithaal vir 'n "visa run" Laos toe laat in Januarie en het uitgebars in trane by die busstasie oor die geld beslommernis. My enkels, knieë en gewrigte het soos mes steke gepyn op die bus en ek't geloop soos 'n vasgeroesde, ou vrou van die outo-immuun siekte. Weereens het ek omtrent niks van die land gesien nie. Ons is na die stad, Savannakhet toe, maar ek't skaars iets daarvan te siene gekry. Toe ek terug kom in Thailand hoor ek die skole is nou gesluit en daar is geen werk vir my nie. Dit was net die laaste strooi.
Gelukkig het ek retoervliegkaartjies gehad wat geldig was vir 'n jaar. Maar tipies Qatar, moes ek nogsteeds inbetaal. Hulle stel net teleur op elke vlak. Ek het opgepak, Bangkok toe gegaan met my enorme tas, en ingeboek by die "Sawasdee Smile". Die volgende dag was ek amper laat vir die lughawebus want ek kon nie die tas gedra kry nie. Oppad lughawe toe, bel Harry my na 'n lang stilte van my werkgewers. Ek sê toe vir hom ek is oppad lughawe toe. Hy was geskok. Wat het hulle gedink? Dat ek vir 6 maande sou aanhou soebat en smeek?
Anyways, ek het daai werk gekry by die goeie hoërskool in die stad. Ek gaan die keer als reg doen. Ek gaan aansoek doen vir die "Non-Immigrant B" visa by die Ambassade in Suid Afrika voor ek Thailand toe kom. Hierdie keer gaan ek dit reg doen sodat ek nie hoef te jok by die grens nie of die skuldlas en geldlas hoef te dra wat ek laas moes dra nie.
Toe ek land in Suid Afrika kon ek dit nie glo nie. Die lughawe se naam was Johannesburg Internasionale Lughawe toe ek gegaan het laas jaar. Toe ek terug kom was dit O.R. Thambo Internasionale Lughawe. (Thailand is deur twee vreedsame staatsgrepe ("coups") in die twee jaar wat ek daar was). Die Thais het blomme gegee vir die soldate in hul tenks wat deur die strate gery het. Ek wonder of dinge so vreedsaam sou verloop het in Afrika? Thailand het ook 'n splinternuwe lughawe gekry. 2006 – 2007 was 'n besige jaar vir albei lande. In die kar oppad terug Pretoria toe, kon ek sien dat Suid Afrika ook 'n paar nuwe boustrukture langs die pad bygekry het. Als was oud en nuut op die selfde tyd.
Sebastian was so bly om my te sien. Hy het seker vir 5 minute lank om die koffietafel "zoomies" gemaak. Niemand is ooit so bly om jou te sien soos jou hond nie. Man, dit het my so huilerig gemaak. Ek't hom so gedruk en gedruk. Daai ou poeierbom van my. Ons het op die vloer gelê en hy het op my gespring en my gesig gelek. Ek hou nie van 'n hond wat my in die gesig lek nie, maar die keer was dit soos nat, slobberige soene van 'n langverlore, ou vriend.
Oops! This image does not follow our content guidelines. To continue publishing, please remove it or upload a different image.