4.1.7 Hoe die Grons Kersfees gesteel het, liefdesteleurstellings en werkprobleme

2 0 0
                                    


Sewende nuusbrief

23 Februarie 2007


My kersfees was maar bietjie van 'n ramp. My twee Hongaarse huismaats het my lelik gedrop toe hulle so dronk soos matrose opdaag by kerkmense se Oukersaandpartytjie. Ek was ook net uitgenooi omdat my Filippynse vriend, Manuel, die gasvrou mooi gesmeek het om iemand saamtebring. Dit was 'n "pity invite". My huismaats was by en voor ek hom kon keer, voel hy verplig om hulle ook te nooi.


Kersdag was ek so smoorkwaad vir my huismaats, ek kon nie na hul kyk nie. Ek is alleen na die diens toe en daarna alleen terug Phetchaburi toe. By die Kersdiens het ek die Loop Van Skaamte geloop. Daai gasvrou het my so 'n vieslike vuil kyk gegee, wat nie in die gees van dinge was nie, ek het bloedrooi gebloos tot in my kleintoontjie in. Ek wou nog sê; "Hulle was nie saam met my nie", maar toe besef ek ek kon nie.


Na die diens het ek die taxi alleen teruggevat Phetchaburi toe. Toe ek by die huis kom, bel ek onmiddelik my familie. Thailand is 5 ure voor Suid Afrika, so dit was die perfekte tyd. Een by een het hulle op die lyn gekom, hulle stemme so opgewek en vrolik, ek bars toe in trane uit toe ek die foon neersit. Na 'n lang snot-en-trane huil voel ek toe honger en gaan maak vir my 'n blikkie tuna oop (want dit was al wat in die huis was). 'n Paar ure later skiet ek toe kat dat dit doer trek. (Nota aan leser: Ek is allergies vir seekos maar ek het dit eers as volwassene ontwikkel en nie op daai stadium geweet nie). Toe ek daar op die hurktoilet, badkamervloer lê was dit my laagste laagtepunt nog.


So, Kersfees was 'n verpletterende nederlaag. Maar ek het darem my huismaats vergewe. Eventueel. Hulle het so pateties skuldig gelyk toe hulle druipstert hier by die huis opgedaag het.


Die een fantastiese ding wat wel gebeur het is dat ek iemand ontmoet het. Sy naam is Andrew en hy is slim, aantreklik en interessant. Hy is Koreaans maar hy het in Amerika grootgeword so hy het daai seksie Amerikaanse aksent. Hy loop oor van charisma en daai selfvertroue en natuurlike leierskap wat die Amerikaners so goed bemeester het. Ek is smoorverlief. Hy is vriende met my Filippynse vriend, Manuel en gaan ook na ECB kerk toe. 


Ek het vir Manuel vertel ek hou van sy vriend en dit wou blyk asof hy bietjie stiller was as gewoontlik daarna. Pi Noi, 'n ouer Thai vrou wat saam met Andrew werk en ook na die kerk toe gaan, het my een aand genooi om saam met hulle uit te gaan. Op pad terug het my Amerikanertjie my gaan aflaai by die "Sawasdee Smile" en ek kon sien hoe goor en berug dit in hulle oë lyk. Ek dink hulle was geskok en het begin besef hoe ek sukkel in Thailand. Toe sê Noi ek kan by haar gaan oorslaap vir die aand.


Andrew het gelyk asof hy van my gehou het. In die begin. Maar hoe meer hy gelyk het asof hy van my hou hoe skamer het ek begin word. Ek dink die skaamheid het hom biejtie afgesit.


Ek was eweskielik erg selfbewus en met 'n bek vol tande daar gesit. Selfs ek kon nie glo hoe skaam ek eweskielik geword het nie. Die vrouens is baie keer die brawe een in die begin. Maar my bravade het vining begin afneem. Soos my bravade begin afneem het, het sy belangstelling ook begin kwyn.


Dit was nie lank nie of hy't my begin vermy of "ghost" soos mens so gepas dit vandag noem. Ek het elke keer so uitgesien om Bangkok toe te gaan en hom dalk raakteloop by die kerk of by ons wedersydse vriende. Maar elke keer wat ek daar opgedaag het dan hoor ek hy kom nie meer nie. Ek was so teleurgestel. Elke keer. Dom vroumens.

Briewe van die Ander KantOù les histoires vivent. Découvrez maintenant