5. Tot wedersiens, vaarwel, auf wiedersehen, totsiens

1 0 0
                                    


1 Junie 2010 (30 jaar oud)


Liewe Karien


Ai, ek kan nie glo dis al 'n jaar en 'n half vandat ek terug is in Suid Afrika nie. Wat 'n surrealistiese nagmerrie soos die fliek "What dreams may come". Ons liewe, dierbare Boeta, wat maar net 5 jaartjies oud was is van ons weggeruk. Hy was sy Ma en Pa se Hart-se-Punt en sy Ouma se Skattebol. Ons mis hom baie. Niemand sal ooit sy plek in ons lewens kan vul nie.


Daar is nie woorde as 'n kind sterf nie. Net skok. En ongeloof. Niemand het dit verwag nie. Mens kan net nie jou kop om dit gedraai kry nie.


Daar is soveel trane dat jy nie geweet het jy het so baie water in jou liggaam nie. Ons het so gehuil ons het al ons traankliere leeggehuil. Die fisiese aksie van huil het letterlik pynlik geword na 'n paar weke. Maar jy kon nogsteeds nie ophou nie.


Tog tyd stap aan. En mens bêre goed weg in daai tassie onder jou bed. Die ergste skok is darem nou verby. Al wat agterbly is 'n dowwe pyn soos 'n oorblywende ledemaatpyn van 'n been of arm wat geamputeer is. Jy weet hy lewe nog, net nie meer hier nie. Maar mens raak gewoond.


Ek sukkel nog om woorde te vind om te vertel wat gebeur het. Deesdae vind ek dit makliker om met mense te praat wat self 'n kind op 'n jong ouderdom verloor het soos my huidige werknemers wat ook hul eerste baba verloor het.


Die pyn is ondraaglik. Ek was net Boeta se tannie. Ek kan nie eers in my wildste nagmerries indink hoe my suster, swaer en ma moet voel nie. Mamma, Pappa en Ouma het elk daarmee gedeel op 'n ander manier. Daarom probeer ek stil bly as ek om hulle is en praat nie te veel daaroor nie. Sommiges wil praat, ander wil nie, ander hardloop weg. Maar almal deel daarmee op hul eie manier.


Ek was by en het eerstehandse ondervinding van hoe dit Ouma getref het. My ma en Boeta het 'n baie spesiale band gehad. Sy het, toe Boeta nog 'n peuter was, vir my suster-hulle gewerk as Boeta se kinderoppasser. My ma het nog altyd net 'n slag met babas en klein kinders gehad. Sy't altyd gesê sy wou nooit 'n beroepsvrou geword het nie. Sy wou net 'n ma wees en 'n klomp kinders kry en by die huis bly. Dit was haar droom. Maar die lewe het haar nie gevra nie en haar op 'n ander pad gevat. Sy moes gaan werk en sy't dit gehaat. 


So dit was 'n absolute droomwerk vir Ouma om haar kleinseun te help grootmaak. Sy was Boeta se versorger in die eerste maande en jare van sy lewe en daarom het die twee van hulle 'n baie noue band gehad. As ek en my ma gaan kinders oppas het, het ek sommer onmiddelik na die meisies toe gegaan. Boeta het net oë vir sy Ouma Het gehad. Ek't altyd spottenderwys myself Oupa Yvette genoem want ek was omtrent elke naweek by my suster se huis besig om kinders optepas saam met my ma.


Ek onthou nog die dag toe ons doer ver in Thailand was en die nuus gekry het dat Boeta baie siek is en sal ons asseblief vir hom bid. Hy't een of ander virus opgetel by die see. Die medisyne het nie gewerk nie.


Dit was 'n week voor Kersfees in 2008. Ek en ma was in Thailand. Dit was die middel van die skoolkwartaal en ons was druk besig met skoolwerk. Thailand vier nie Kersfees nie maar gee gewoontlik Kersdag af vir die "falang" onnies. Ek was baie opgewonde, want na agt maande, sou ma vir die eerste keer, op haar eie, vir my kom kuier oor die Kersnaweek in Phetchaburi.

Briewe van die Ander KantWhere stories live. Discover now