4.2.5 Malhaassemesters, dol Bangkok naweektrippies en verspotte vakansies

1 0 0
                                    


Twaalfde nuusbrief (Tweede trip. Vyfde nuusbrief)

29 Oktober 2008 (28 jaar oud)


Die vyf maande-lange kwartaal is nou verby en daars nog net een kwartaal wat voorlê voor ek weer julle liewe gesiggies gaan sien. Julle wonder seker hoekom ek so stil was met my nuusbriewe? Wel, die waarheid is, dit het maar woes opdraande gegaan met my en ek't soos 'n piesang gevoel. Om 'n lang storie kort te maak het twee werke, elke naweek Bangkok toe jaag, siektes, baie antibiotika wat die dokter baie maklik uitgedeel het en die allergiese reaksies wat dit veroorsaak het, voor-op-die-wa, ongeskikte, tieners twits, moeilike kollegas en raaserige bure my stapelgek gelaat. Hoe kan mens dan skryf, behalwe dol briewe en wie's nou ooit lus om iets te lees wat non compos mentis is? Ek voel soos "Alice in Wonderland".


Ek lewe al 'n jaar lank soos 'n baie bevooregte Thai (maar arm Westerling), sonder motor, yskas, wasmasjien en kombuis (die Thais kook buite). Ek het 'n jaar laas water uit 'n kraan gedrink en sit elke week met die probleem: "waar gaan ek my weeklikse water gaan koop vandag?". Elke week sit ek af na die "7 eleven" toe om ses liters water te gaan koop en aftedra woonstelkamer toe. Dan's dit sommer my weeklikste oefensessie ook.


Vir die afgelope jaar, elke Maandagmiddag as die skoliere kadette het na pouse glip ek gou uit en gaan supermark toe om my weeklikse kruideniersware te koop. Ek sit af "Big C" toe en kry als wat ek nodig het vir die week (behalwe die water). Daarna eet ek gou "Cow Muhn Ghai" by die kafeteria. "Cow Muhn Ghai" en hul groenteomelet is omtrent al wat my maag kan hanteer. "Cow Muhn Ghai" is 'n stukkie opgekapte, hoenderwitvleis met rys en 'n ekstraksopppie wat net te heerlik is. Dis definitief my gunsteling Thai gereg.


Ek het ook nogals 'n verhouding opgebou met die motorfietstaxibestuurders van Phetchaburi. Ek dink ek het sielsalleen die taxibestuurders se kinders deur Universiteit gesit. Ek is definitief 'n gewensde "falang" en het die Thaise ekonomie bevorder. Nie net 'n "noodsaaklike euwel" soos meeste Thais dink oor buitelanders nie.


Na ek my inkopies doen en klaar my "Cow Muhn Ghai" geëet het, kry ek 'n motorfietstaxi. Elke week sit die taxibestuurder 'n kruidenierswaresakkie oor elke handvatsel. Ons pak nog kruideniersware in die mandjie en ek dra 'n boks melkies, my skoolsak, handsak en ten minste nog twee plastieksakke op my skoot terwyl ek sysaal op die motorfiets sit en perfek balanseer. Daai motorfiets sak 'n paar sentimeters van al die gewig, maar noem ons af van ons trollies af, ons maak dit nogsteeds werk. My balans agter op 'n motorfiets is nou al so goed ek hoef nie eens meer vastehou aan die taxibestuurder nie, net aan die stert van die motorfiets. In Thailand dra die passasiërs nie valhelms nie. By my woonstel sit ek gou my pakkies neer, pak uit wat ek kan en gaan terug skooltoe vir die dag se afsluiting.


Ek bestel ook weekliks by my gunsteling, plaaslike koffiewinkeltjie, "Bahn Muang Phetch", wegneemetes. Ek bestel die groenteomelet, 'n koffiemelkskommel en 'n waffel met heuning vir nagereg omtent elke tweede dag. Ek is op eerstenaambasis met die eienaares en het selfs vriendinne geword met haar. Die dames wat daar werk weet presies waar ek woon en waar ek werk en kom lewer ook gereeld vir my af. Ek dink hulle seën die dag wat ek in Phetchaburi opgedaag het. My geld het definitief 'n paar klein besighede in Phetchaburi opgestoot en 'n groot inspuiting van fondse gegee. Ek was 'n groot hupstoot vir die Thaise ekonomie in die afgelope jaar en 'n half.


Ek besef nou, as ek so terugkyk, ek het 'n jaar laas bestuur, kos gekook of in 'n bad gebad (N.S. ek stort daagliks!) Ek lewe al 'n jaar lank in hierdie intense hitte en humiditeit en maak nou al soos 'n regte Thai "pro" en sit elke oggend poeier op die gesig om die sweetjies in toom te hou. Van alles wat ek al aangepas het, is die Thai kultuur my net een te veel en bly onverstaanbaar mal vir my. Ek krap nogsteeds my kop meeste dae.

Briewe van die Ander KantWhere stories live. Discover now