Die dolkop avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.
Jammer dat ek nou eers antwoord maar soos julle seker al gehoor het, het ek baie ontsteld geraak die eerste dag toe ek hier opgedaag het. Ek kon nie bel of epos nie. Dit is op die oomblik moeilik om almal te kontak. Sodra ek gevestig raak sal ek meer gereeld epos, soos in ELKE DAG!
Hoe gaan dit met my meisies; Cara, Mila en Amy? Ek mis julle almal baie.
Hier in Thailand is ek soos "The Elephant Man". Mense se nekke draai in alle rigtings as ek verby stap. Ek dink ek besef nou wat dit is om 'n ster te wees. Dit raak net na 'n ruk nogal kak want almal staar en kyk en jy is nie een van die skare nie, jy staan uit.
Die weer in Thailand is Durban humiditeit en dis glad nie 'n grap nie, glo my. Ek is nie die tipe wat gewoontlik sweet nie, maar hier is ek soos "sweaty boomsticks"! Jou tipiese vuil "falang"! Ek moet 'n nat waslappie saam met my ronddra want anders perspireer ek in strome. Dis veral van toepassing as ek klas gee. Daar's geen lugverkoeling in die klaskamers nie. Net 'n dakwaaier wat die warm lug verplaas in die vertrek.
"Falang" is die belangrikste woord in elke toeris se woordeskat. Dit beteken buitelander. Die Thais gebruik dit in 'n positiewe of negatiewe konnotasie maar meestal is dit negatief. Jy sal kan aflei watse een van die twee deur te let op die konteks van die gesprek. Gelukkig hou die Thais van onderwysers.
Die familie by wie ek bly is baie gaaf. Hulle het 'n tweejarige wat soos 'n regte tweejarige sulke moerawiese vloermoere gooi, maar die 8 jarige dogter en 13 jarige seun is baie oulike kinders. Die ordentelike, pragmatiese seun het net sneesdoekies aangegee toe ek gehuil het soos 'n baba op my eerste dag hier.
Ek het belowe om julle te amuseer met my gruwelstorie oor die hurktoilet. Die toilette hier spoel of nie, of jy moet hurk. En daar is nêrens, ek bedoel NERENS, toiletpapier waneer jy dit nodig het nie. Verder, as jy gelukkig genoeg is om 'n badkamer te kry met 'n Westerse toilet is daar 'n asblik vol poewerige toiletpapier langsaan. By baie plekke moet jy 'n bak vol water gooi en dit dan per hand in die toilet afgooi om te spoel. Baie van die badkamers het so 'n hoekie van die kamer in 'n swembadjie omskep vir die doel. So, mens se hande is half die heeltyd vuil. Dis so grillerig. Julle weet hoe ek oor higiëne is. Maar ek moes maar gou oor dit kom! Soos jy sê mes!
Ups! Gambar ini tidak mengikuti Pedoman Konten kami. Untuk melanjutkan publikasi, hapuslah gambar ini atau unggah gambar lain.
Die tweede ergste ding, is die honde. Die rondloperhonde is orals. Hier lê 'n "soy" hond voor die kantoor met iets wat lyk soos 'n opgeswelde bal binnegoed wat by sy boude uitkom. Die honde is so verwaarloos. Hulle is sulke lelike, medium-groote basterbrakke. Aan die ander kant, is daar ook hierdie oor-gepamperlangde Maltese poedels. Nes "Lady and the Tramp". Die Maltese poedels hier het sulke plat gesigte. Dis die lelikste honde wat ek nog ooit gesien het! Dis hartverskeurend om te sien hoe wreed hulle teen die rondloperhonde is. Die mense is so gedesensitiseer hulle sien nie eens meer die arme goed raak nie.
Maar omdat ek 'n glas half-vol mens is, moet ek ook die goeie goed noem. Die mense is vreeslik vriendelik en gaan uit hul pad uit om my te help. Hulle gee my gereeld vrugte of klein geskenkies.
My skool kinders is mal oor my en hulle is besig om my Thai woorde te leer. Die kinders behandel my soos 'n bekende. (Ek hoop nie dit gaan na my kop toe nie!) Ek voel soos "Anna and the King".
Ek het my goeie dae en my slegte dae. Ek mis julle almal baie maar die mense hier probeer hul beste om my te help en is baie goed vir my. Die Thais is baie gasvry.
Ek was vandag weer lus gewees vir Westerse kos toe gaan koop ek 'n KFC kinderburger. (Ja, hulle het KFC en Caltex garages, een van ons SA handelsmerke. Nescafé is groot hier. Geen filter koffie sover nie maar dis so warm, ek mis dit nie!)
Herlaas die KFC kinderburger was toe brandbekwarm. Ek moes dit, tot my bittere spyt, na 'n paar byte neersit. Ek was so lus. Die een ou, sy naam is Oh, ja, jy't reg gelees, Oh, sê toe vir my brandrissies is vir die Thais allerdaags. Hulle dissiplineer hulself al van kindsbeen af. Ek skuim om die bek maar vir hul is dit kinderspeletjies.
Die mense hier is kort. Ek is in die langer klas. Die mans is my lengte. Die meisies is natuurlik beeldskoon en 'n nommer 8. Die jong mans is net so mooi soos die meisies. Van die ouer mans het lang pinkie naëls.
Verder gaan als goed. Ek pas goed aan. Julle beter kom kuier of anders skop ek julle almal onder die alie – oor 'n jaar.
Baie groetnis en baie liefde en baie drukkies en, en, en
Yvetta Bobetswetta
(in Thai, Yvesh)
Ups! Gambar ini tidak mengikuti Pedoman Konten kami. Untuk melanjutkan publikasi, hapuslah gambar ini atau unggah gambar lain.