Vierde nuusbrief
2 Oktober 2006
Het julle geweet dat in Thailand het hulle net storte en nie baddens nie en dat daar slegs koue water krane is? Ek het die eerste keer toe ek dit agtergekom het gewonder hoe ek die koue water sou uitstaan. Nou dink ek 'n koue stort in hierdie hitte is die mees verfrissendste ding ooit.
Dit word ook nie koel in die aand soos in Suid Afrika nie. Daardie blêrrie humiditeit! In Suid Afrika as jy onder 'n boom in die koelte staan, dan koel jy af. Slegs die son is 'n bron van hitte. Nie hier nie. Selfs al is jy onder 'n boom, in die koelte, selfs al vat jy die son weg, die hitte is in die lug om jou. Dis in die bries. Jy kan dit nooit ontsnap nie. Net lugverkoeling kan daai monster uitoorlê!
Die ander interesante feit oor Thailand, wat ek julle nog nie vertel het nie, is dat Thailand nie net sy eie taal het nie, maar ook sy eie skrif. Hulle alfabet het nie 'n A, B, C soos ons s'n nie, hulle letters lyk soos iets tussen Indiese skrif en Chinese skrif. Dit laat my baie dink aan die vorm van baie huise en tempels se dakke. Dit begin in 'n punt bo en soos met 'n driehoek, kom dit af en by die punte krul dit effens uit (soos die punt van 'n Arabiese skoen).
Ek het teen die tyd ook al kennis gemaak met van my eerste kultuurskokke. Hier volg 'n lys:
1. Hier sal iemand maklik jou spot oor jou vet lyf of arms en dis 'n teken dat hulle van jou hou. (As jy vet is beteken dit jy moet baie kos hê en dus is jy sekerlik baie ryk).
2. Die mense is vreeslik vriendelik en wil graag help. Die ander dag is ek na 'n restaurantjie en dit het ons presies 'n half uur gevat, baie gebare en prentjies teken, en almal in die buurt ingeroep wat 'n bietjie beter gebroke Engels kon praat as die volgende ou, om die "falang" te probeer verstaan, sodat ek my bestelling kon plaas.
3. Die Thais eet omtrent niks beesvleis nie. Dis blykbaar omdat hulle Buddiste is en mos glo in vreedsaamheid en nie dood maak nie. Hulle glo die bees is 'n nuttige dier omdat hy ook melk gee, en omdat hy so groot is wil hul hom nie doodmaak nie. My vraag is net: wat van al die hoenders wat hul so slag? Hul gee tog eiers? En wat van al die varke? Hulle is groot diere. Die mense hier is groot op varkvleis (met rys en noodles daarby). Hulle eet ook altyd so 'n soppie saam met hul kos. Op my eerste dag hier het ek dit geproe. Man, dis hondsleg! Dit proe en lyk soos warm sout water met stukke groente, vark en oliekolle wat bo op dryf.
4. Jong dames moet met 'n "chaperone" uitgaan en die jong man sal haar slegs uitvra as hy wil trou. Dis 'n baie tradisionele en konserwatiewe dorpie waarin ek bly.
5. 'n Dame maak altyd haar skouers toe. Met ander woorde, in hierdie intense hitte, as 'n gerespekteerde onderwyseres, geen moulose hemde vir my nie. Huil. Huil.
6. Thailand is 'n monargie. Hulle is absoluut gaande oor hulle koning. Hy was 'n baie goeie koning en het blykbaar die opiumboere oortuig om eerder met kos en groente te boer. Sy prentjie kry voorkeur en pruik bo ons koppe teen elke tweede gebou, langs en bo-oor paaie, in elke skool en by baie winkels. Hulle sien hom in dieselfde lig as Budda. Amper 'n god. Ek sien orals waarheen ek gaan dieselfde koningsalmanak. 2006 is die koning se 60ste regeeringsjaar. Hy is die enigste, lewendige monarg wat so lank al regeer in die wêreld. Die mense hier is vreeslik trots op die koning. Hy is nou al oud, seker in sy tagtigs. (Dis dieselfde land as in die flieks, "The King and I" en "Anna and the king". Hulle laaik nie daai flieks nie, hoor. Anna het nie ordentelike respek getoon nie. En wie was sy nou eintlik? Te groot vir haar skoene. Blêrrie buitelander!) Elke Maandag dra die meerderheid mense 'n geel golfhemp. In Thailand het elke dag 'n kleur en die koning se kleur is geel omdat hy gebore is op 'n Maandag. Dus dra Thailand geel golfhemde elke Maandag.
YOU ARE READING
Briewe van die Ander Kant
HumorDie dolkop avontuur en sprokiesfilmverhaal van 'n donquijotiese, middeljarige vrou wat nie wil opgee op haar droom nie en dus aanhoudend haar gat sien.